KORKOM Produsente & Agente Inligtingsdag

Altesaam 112 rolspelers in die aartappels- en uie bedrywe het die Inligtingsdag van KORKOM op 20 Januarie 2010 bygewoon.  Peter Matthews van Kaapstad Mark, het tydens die geleentheid die produsente bedank vir hul ondersteuning aan die mark en elkeen teenwoordig die versekering gegeee dat dit vir Kaapstad Mark ‘n voorreg is om met die produsente uit die Ceres gebied besigheid te doen.

Gasspreker was Dr Johan van Deventer van Freshmark, hy het melding gemaak daarvan dat hy reeds 20 jaar lank in die varsprodukbedryf aktief is.  Hy is oortuig dat sekere fasette van die varsprodukmark aansienlik verander het die afgelope jare.  Een hiervan is bemarking.  Hy meen dat dit noodsaaklik is vir produsente om dieselfde moeite met hul bemarking te doen as met hul produksie.  Daarteenoor is hy ook van mening dat sekere fasette onveranderd gebly het oor die jare.  Sommige hiervan is integriteit en eerlikheid, die bou van verhoudings, dienslewering en die kwaliteit van produkte.  Volgens hom is voedselveiligheid, verskeidenheid, varsheid en gerief belangrike faktore vir verbruikers.

Hy’t gesê dat die varsproduktebedryf die regte bedryf is vir diegene met ‘n passie daarvoor.  Hy het produsente aangemoedig om saam te staan en om moeite met bemarking te doen en kennis aangaande bemarking te bekom.

BEMARKINGSINLIGTING

Aartappels

Mark du Plessis, HUB van Aartappels Suid-Afrika het die Sandveld, sowel as die landswye aartappelbemarkingssituasie geskets.  Hy het beklemtoon dat, met verwysing na statistiek van die afgelope 3 jaar, is dit duidelik dat die verbruiker bereid is om meer te betaal vir aartappels – en selfs nóg meet vir uie.  Hy het ook terugvoering gegee oor tendense op munisipale markte.  Die aanplantings vir 2010 dui op ±4000 hektaar meer as 2009, grootendeels vir die prosesseringsmark en ‘n gemiddelde prys tussen R27 en R29 per sakkie.  Die Sandveld en Oos-Vrystaat beïnvloed Ceres se bemarking en pryse.  Die voorspelling is dat pryse Maartmaand moontlik onder druk kan wees vir Ceres.

Ceres aartappel inligting

Daar is 959.75 hektaar vir die 2010-seisoen aangeplant, 62.25 hektaar meer as die vorige seisoen.  Projeksie van opbrengs 4,911,863 sakkies gem t/ha 51.17.
Gemiddelde prys per R per 10kg per maand op alle klasse behaal die afgelope vyf jaar:

  • 2009 –        91
  • 2008 –        77
  • 2007 –        21
  • 2006 –        59
  • 2005 –        74

Dis duidelik dat daar ‘n goeie styging in die pryse behaal, was.

Ceres Uie inligting

Fase 2 opname dui op 2498 hektaar geplant vir 2010-seisoen.  Opbrengs van 16,582,108 sakkies @ gem/ha van 66.38.
Ceres se gemiddelde prys per R per 10kg per maand op alle klasse behaal die afgelope vyf jaar:

  • 2009 –        55
  • 2008 –        56
  • 2007 –        93
  • 2006 –        98
  • 2005 –        43